Wie is Ons?
1. Wie is Henri Theron?


Henri Theron is sedert 1976 ‘n geregistreerde voorligtingsielkundige en het sy MA-graad cum laude aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat behaal. Hy beskik ook oor ’n Hoër Onderwysdiploma, het ’n Bestuurs- en ontwikkelingsprogram aan die US Bestuurskool suksesvol afgehandel en kursusse en werkwinkels in verskeie onderwerpe, waaronder Transaksionele Analise en Peer Group Training, voltooi.
Hy het ervaring as onderwyser-sielkundige, lektor in Sielkunde, 5 jaar ervaring as ’n beroepskonsultant in Kaapstad en 13 jaar as ’n studentevoorligter by die Universiteit van die Vrystaat, die Kaapse Technikon en die Universiteit van Stellenbosch.
Hy beskik veral oor ervaring ten opsigte van beroepsvoorligting, akademiese voorligting en persoonlike voorligting aan studente en volwassenes. Gedurende sy 7 jaar by die US het hy veral betrokke geraak by die ontwerp en aanbieding van proaktiewe sielkundige pogramme om menslike potensiaal te ontwikkel en persoonlikheidsgroei te bewerkstellig.
In 1996 het hy ’n privaat praktyk in Kaapstad as ’n voorligtingsielkundige begin en as menslike hulpbronnebestuurder gedien.
In 1998 het daar ’n belangrike verandering in sy lewe plaasgevind toe hy met A Course in Miracles begin het. Hy het hom daaraan toegewy om die boek in Afrikaans te vertaal. Die vertaling van ’n Kursus in Wonders is in 1998 begin en in 2005 voltooi. Sedertdien het hy sy tyd aan die Kursus en verwante aktiwiteite bestee deur dit aan groepe te onderrig en spirituele terapeutiese bystand aan individue te verleen. Dit was onvermydelik dat hy as sielkundige in sy pogings om menslike ontwikkeling en persoonlikheidsgroei te bewerkstellig na twee en twintig jaar uiteindelik moes besef dat spirituele terapie die enigste vorm van genesing is:

“Onderrig slegs liefde, want dit is wat jy is.” (’n Kursus in Wonders)
Kyk ook die volgende:  http://www.acim.org/Translations/afrikaans.html
 



2. Wie is Marie de Kock?
 
Marie de Kock is ’n taalpraktisyn wat in 1978 ’n B.Ed-graad en in 1991 ’n M.A.-graad in Taalwetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch behaal het.
Sy was 6 jaar lank joernalis by die uitgelese tydskrif Sarie, 3 jaar lektrise in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad en 3 jaar skakelbeampte vir ’n wynlandgoed. Van 1976 het sy as Departementshoof Afrikaans aan verskeie hoërskole onderrig. Sedert 2002 wy sy haar vryskut aan skryf-, vertaal- en redigeerwerk.
Sy het o.a. 26 boeke vir vooraanstaande uitgewers in Suid-Afrika uit Engels, Duits en Nederlands vertaal. Sy het verskeie boeke en doktorstesisse geredigeer, advertensies vertaal, brosjures, persvrystellings en artikels geskryf en meegewerk aan die skryf van ’n kabaret wat professioneel opgevoer is.
Sy beskik dus oor ’n besonder deeglike kennis van, uitgebreide ervaring in en ’n fyn aanvoeling vir haar vakgebied Afrikaans.

Marie is ook ’n geakkrediteerde toeristegids. Sy help graag voornemende Kursus-studente en ander besoekers aan Kaapstad, die Wes-Kaap en die Tuinroete met toerprogramme, besoeke aan besienswaardighede en algemene inligting. Skakel +27 021 4652509




E-pos | Tel +27 78 2844042 Faks 27 86 7510248

© Copyright  by A Centre for Miracles.